EREDIENSTE VAN SONDAG 7 MAART AF

Gisteraand het die president aangekondig dat ons vanaf eerskomende Sondag (7 Maart2021) weer 100 mense (maar nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal nie) in die eredienste mag wees. Ons sal in die week laat weet hoe ons te werk sal gaan met besprekings ens.

Op 28 Februarie 2021 is daar aangekondig dat daar in die laaste 24 uur 1168 nuwe COVID-19 gevalle en 52 sterftes was en daar was reeds 70 562 immuniserings toegedien. Op 10 Januarie 2021 was op ons as land op die hoogste piek sedert die pandemie begin het. Op die dag was daar 21 606 nuwe aanmeldings en 339 sterfgevalle. Op 26 Maart 2021 sal dit een jaar wees sedert die president die noodtoestand afgekondig het en die land ingeperk is. In die jaar wat verby is het ons ‘n nuwe leefstyl aangeleer. ‘n Leefstyl waar ons deur die dra van maskers, sosiale afstand en hande was ons self en ander beskerm teen die virus. Hierdie leefstyl sal nog vir baie lank deel wees van ons lewe en deel wees van die nuwe normaal.

Ons sal voortgaan om versigtig te wees en al die maatreëls toe te pas soos ons nou al gewoond geraak het. Ons staan egter ook voor die geleentheid om binne hierdie nuwe normaal ons weg te vind  en te ontdek hoe ons nou gemeente kan wees tot eer van God en tot uitbreiding van die Koninkryk.

Die pandemie het ons bewys geraak van maniere om betrokke te raak by mense in nood en hier kon ons beleef dat mense se hande en harte oop was. Ons kon feitlik dwarsdeur die pandemie vir 37 families maandeliks kos voorsien deur donasies en skenkings wat ontvang is. Sommige het geld en kos gee, ander het gehelp om dit voor te berei en te pak, ander het gehelp om dit af te laai. Ons was betrokke by die shelter in Capital Park en Jacaranda kinderhuis en Vergenoeg en CMR en Oos Moot aftree-oord. Mense in nood kon beleef dat God by hulle teenwoordig is.

Tydens die pandemie het ons eredienste op video beskikbaar genmaak. Kinderkerk en tienerbyeenkomste is op zoom aangebied en eintlik goed bygewoon deur die kinders en jongmense. Ons is dankbaar daarvoor.

Ons teenwoordigheid op die media deur veral klankbane van die eredienste wat Sondag reeds gereed gaan wees is ‘n gegewe. Een van ons drome is dat ons in staat sou wees om eredienste direk op die internet uit te saai (streaming) en so mense by hulle huise deel te maak wanneer ons eredienste hou, maar die koste verbonde aan sulke toerusting is op hierdie stadium buite ons bereik. Ons verdere droom is om mense wat kies om nie in persoon deel van ‘n vergadering te wees nie virtueel (bv. via zoom) deel van ‘n vergadering te laat wees sonder om die persoon skuldig te laat voel. Deel van die nuwe normaal sou wees om ons hulp aan mense in nood te verfyn maar nooit heeltemal te stop nie.

As gemeente kon ons tog op ‘n manier daarin slaag om steeds gemeente te wees. Die uiters effektiewe kommunikasie deur ons whatsapp-(nou ook telegram-)groepe  is ‘n verdere gegewe. Ons is so oorweldig deur die ondersteuning wat ons gekry het met ons deurry verkope, dat ons mooi gaan dink oor hoe ons dit deel van ons gemeente-wees gaan maak.

Een van die dinge wat ons geleer het in hierdie tyd geleer het is dat daar so baie gesprekke is wat elektronies afgehandel kan word. Ons gaan probeer om nie te bel as ‘n whatsapp dit nie kon sê nie, en nie ‘n vergadering te hou as ‘n epos dit kon sê nie.

Ons is ook oorweldig deur die manier waarop die gemeente in hierdie tyd aangehou het om dankoffers te gee. In die verlede was ons versigtig om mense elektronies te herinner aan hulle dankoffer. Tydens die pandemie het ons dit gedoen en mense het wonderlik gereageer. Ons kon te midde van die COVID 19 pandemie steeds op 31 Januarie 2021 vir die jaar tot datum ‘n inkomste toon wat 1.21% bo begroting was.

As kerkraad sal ons seker maak dat ons binne die reëls funksioneer. Ons wil elke gemeentelid egter uitnooi om in hierdie tyd saam met ons die onbekende terrein van die nuwe normaal van kerk wees te betree, saam met ons te droom, saam met ons te waag en saam met ons te werk.

Met die begin van die pandemie het ons na die klag-Psalms gegryp om ons onverwoordbare emosies te beskryf. Dalk het dit nou tyd geword om na die pelgrims-Psalms te kyk in die tyd waarin ons dit waag om die nuwe normaal te betree en dikwels maar rondom ons moet en baie versigtig wees in ons reis na die “tempel” – die teenwoordigheid van ons God. ‘n Psalm soos Psalm 121:

“Ek kyk op na die berge:

Waar sal my hulp vandaan kom?

My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.” (Psalm 121:1-2)

Ds. Attie Nel

Leave a reply