GEBEDSPROGRAM: NG KERK WAVERLEY.

Sondag 24 Apr tot Sat 28 Mei 2022

As mens begin dink oor moeilike vrae in die lewe, raak mens baie gou verstrengel in n doolhof waar jy nie uitkoms of lig sien nie. Soms bid ons ernstig vir uitkoms in moeilike situasies  en dan gebeur dit nie soos ons gehoop het nie. Ons was so seker ons saak is reg en het ook gedink dis volgens God se wil.  Hy sal mos ons versoeke toestaan as ons bid volgens Sy wil!? Gewoonlik troos ons onsself deur te se: God weet die beste. Dis natuurlik n goeie antwoord vir ons as gelowiges. Maar telkens wanneer iemand vir wie ons lief is of vir wie ons groot respek het in n ernstige krisis beland, dan wonder ons weer oor die sinvolheid van slegte gebeure in ons lewens.

Daar is baie bose dinge in die wereld en God se wil seevier nie altyd nie. Iets wat my baie troos is Rom 8:28 wat ons verseker dat God alles vir ons ten goede sal laat meewerk. Dit is egter moeilik om in te sien wanneer ons in n slegte situasie is. Maar later, wanneer ons terugkyk, kan ons sien hoe God die situasie doelgerig in ons lewens gebruik het.

In sy boek, “God se antwoorde op die lewe se moeilikste vrae”, skryf Rick Warren dat ons kan terugkyk en vir mense wat die lewe vir ons probeer moeilik maak het, se: “Jy het dit sleg bedoel, maar God het iets goeds daaruit laat kom. Jy wou my daarmee vernietig, maar God het dit gebruik om my te laat groei. Jy wou my daarmee afbreek, maar God het dit gebruik om my n sterker en meer volwasse mens te maak. “

Ongeag wat gebeur – selfs al verloor jy n stryd – is die oorlog gewen en die finale uitkoms in God se hande. Hy kan mislukkings omkeer en iets goeds daaruit laat kom.

Al word ons gebede nie beantwoord soos ons vra nie, sal ons aanhou om in te tree in die ruimte van die Vader-huis. Die geborgenheid by God dryf die angs uit en maak ruimte vir kalmte. Dit gee hoop en die moed om aan te gaan. Dis ook om erkenning te gee van ons mens-wees en God se God-wees.

Gebed:  Here, wanneer ek bid: “Laat U wil geskied” vind ek soms diep binne my n vasklou aan my eie wil. Maak my asb. so vol van U Gees dat U wil my wil sal wees, en ek my met volle oorgawe aan U volmaakte wil sal onderwerp in die wete dat U my liefhet en vir my sal sorg. Amen

Sterkte en seënwense

Kobie

Loer in op ons sosiale media blaaie

BesoeK ONS