DAG 13: 19 Mei 2016 – Probleem: gebroke verhoudinge en vervreemding

Skrifgedeeltes vir nadenke: Ps. 146; Deut. 32:4; Jes. 1:16–17

OORDENKING: Vervreemding

Een van die vrugte van ons apartheidsverlede – sowel as van alles wat op die oomblik in ons samelewing afspeel – is die feit dat groot groepe mense in ons land vereensaam en uitgestoot voel. Die lewe het by hulle verbygegaan. Dit lyk asof baie die vrugte van die stryd teen apartheid gepluk het, maar hulle het niks daarvan gesien nie. Die frustrasie en die moedeloosheid kook oor! Dieselfde geld van honderdduisende jong mense wat drome gedroom het oor die nuwe land, oor wat dit alles vir hulle inhou, en nou vind hulle hulself op die hoeke van strate, honger, net so moedeloos en baie sinies oor wat hul leiers, met baie woorde, aan hulle beloof het. ’n Spesiale groep gemarginaliseerde mense in ons land is dié wat die afgelope jare oor die grense van ons land gekom het, soms derduisende kilometres ver, ook met ’n vlammetjie van hoop en verwagting in hulle harte. In die townships word hulle dikwels geviktimiseer, word hulle onwelkom gemaak. Xenofobie het ’n deel van ons lewe in Suid-Afrika geword. Vervreemding hoort ook nie net tot een rassegroep of bevolkingsgroep nie. Verarmde blankes, boere wat hul deure en vensters elke aand met vrees toesluit, mans en vroue wat hul werk verloor, jongmense wat voel dat daar op allerhande maniere – net omdat hulle wit is – teen hulle gediskrimineer word, maak almal deel uit van die skare vervreemdes en gemarginaliseerdes in ons land. In ons soeke na vrede sal ons met die verskynsel van vervreemding en met die probleme wat dit in ons land skep, rekening moet hou.

God, moet ons onthou, is die God wat veral aan die kant van die verarmde en verontregte en die vereensaamde staan. Continue reading

DAG 12. 18 Mei 2016 – Probleem: Rassisme

Skrifgedeeltes vir nadenke: Gal. 5:1–15; 28–39; Hand. 17:26–28; Ef. 2:13–16; 3:14–15.

OORDENKING: Die monster van rassisme

Die monster van rassisme is nog lank nie nek omgedraai nie! Met die aanbreek van die Nuwe SuidAfrika het ons almal gedroom van ons nuwe land, van die reënboogland, waar wit en swart en bruin nie meer gaan saak maak nie, waar mense oor alle rassegrense heen na mekaar gaan uitreik, dat ons mekaar nuut sal ontdek en geniet. Plek-plek gebeur dit, by die werkplek, in gesinne, op skoolbanke, ook in kerke. Maar die wrede werklikheid is dat daar nog altyd rassisme en rassevooroordeel in ons land is. Jy sien dit op straat, jy hoor dit in gesprekke om jou, jy ervaar hoe dit dikwels vir politieke gewin aangeblaas word. Soms skrik jy vir die oorblyfsels van rassisme in jou eie hart!

Ons as gelowiges het die onontwykbare roeping om rassisme uit ons samelewing te verwyder. Continue reading

DAG 11. 17 Mei 2016 – Probleem: wantroue en agterdog

Skrifgedeelte vir nadenke: Ps. 20:7; Ps. 25:2; Ps. 40:3–4.

OORDENKING: Wantroue

Een van die grootste hekkies wat ons op ons versoeningspad moet oorkom is dié van wantroue en agterdog. Deur baie jare heen is die Suid-Afrikaanse gemeenskap verskeur en in groepe verdeel: swart, wit, bruin en Asiër. Ons het baie min met mekaar te doen gehad, elke groep het sy eie pad gegaan. Doodgewone menslike kontak, was daar min. Met die koms van die nuwe Suid-Afrika het dinge verbeter, en is daar baie Suid-Afrikaners wat mekaar as medeburgers van die land leer ken en waardeer. By die werksplek werk die meeste mense redelik goed saam. Maar van sosiale kontak is daar nog nie veel sprake nie. Dit maak dat mense mekaar nog dikwels wantrou, dat hulle nie regtig weet wat hulle onderskeie motiewe is nie. Selfs as mense na mekaar uitreik, wonder hulle oor mekaar se motiewe. In sy Reconciliation barometer (2015) rapporteer die Instituut vir Versoening en Geregtigheid dat 63,3 persent van alles Suid-Afrikaners min of geen vertroue in landgenote wat aan ander rassegroepe behoort, het nie. Ons sal ernstig hiervan kennis moet neem en aan die onderlinge wantroue moet werk. Continue reading

DAG 10. 16 Mei 2016 – Probleem: onreg

Skrifgedeelte vir nadenke: Hos. 10:12–13; Deut. 32:4; 2 Kron.19:6–7; Jes. 1:16–17; Jer. 22:13–14; Eseg. 18:21–24; Amos 5; Luk. 6:20–26; 12:14; Ps. 146.

OORDENKING: Onreg in die samelewing

Ken jy die mooi verhaaltjie van die man wat sy werkgewer se goue pen gesteel het? Hy het gedink die baas so ryk is dat hy dit nie eers sal agterkom nie. Min het hy geweet hoe hy die wêreld omgekrap het! Die werkgewer was ontsteld. Sy vrou wat die pen as ’n troudaggeskenk gekoop het was woedend. Die kantoorwerkers het mekaar verdink. Almal was gespanne en kort van draad. Baie verleë het die skuldige aan sy baas se deur geklop. “Meneer”, het hy gesê, “ek is die skuldige. Ek wou my hele lewe al so ’n mooi pen gehad het. Ek het gedink u sal dit nie eers mis nie. Maar ek besef dit was baie verkeerd en ek is baie jammer daaroor. Sal u my asseblief vergewe?” Die baas was baie verlig en het opgestaan en die man omhels: “Ek is so bly dat die saak uiteindelik opgelos is. Nou sal daar weer vrede by die huis én op kantoor wees. Natuurlik sal ek jou vergewe!” Toe die skuldige baie dankbaar by die deur uitstap, het die baas hom egter voorgekeer. Hy het sy hand uitgesteek: “Ek is nie meer kwaad nie en ek het jou vergewe – maar kan ek asseblief my pen terugkry?”

In ons samelewing is daar geweldig baie onreg – en as die onreg nie hanteer word nie, is daar nie sprake van versoening nie. In die verlede het miljoene Suid-Afrikaners baie seer gekry. Die letsels van apartheid is nog oral sigbaar. Miljoene medeburgers voel verontreg, met rede. Beloftes is nie nagekom nie. Woongebiede val uitmekaar. Sommige gemeenskappe floreer – dit lyk asof hulle al die voordeel trek. Ander gemeenskappe sak al dieper in die ellende. Die kloof tussen die baie rykes wat nie weet wat om met al hul geld te doen nie én die armes, die groot skare wat nie eers weet of hulle vandag kos vir hul kinders gaan hê nie, is van die grootste op aarde. Vir baie is daar nie werk nie. Vir honderdduisende jongmense wat die skool en universiteite verlaat is daar min hoop op ’n loopbaan. Daar is geweld in die strate, moorde op die plase. Continue reading

DAG 9: 15 MEI 2016

DEEL 2. IDENTIFISEER DIE PROBLEEM: WAT VERNIETIG ONS?

(Dag 9–20) DAG 9. 15 Mei 2016 –

Beginsel: Waarheid

Skrifgedeeltes vir nadenke: Joh. 8:32; 14:6,16–17; 17:17; 18:37–38; Ps. 43:3.

OORDENKING: Bang vir die waarheid. In oorlogstye, so word dikwels vertel, is die waarheid die heel eerste slagoffer. Dis ongelukkig ook waar ná die konflik, as vrede gemaak moet word. In ons eie land, met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika, was daar baie wat gesê het: “Maak die boeke toe! Dis nie nou tyd om ou koeie uit die sloot te grawe nie!” Maar dis verkeerd. Die eerste voorvereiste vir versoening is dat ons mekaar in die oë sal kyk en die waarheid met mekaar sal praat. Continue reading

BID VIR SUID-AFRIKA 7 Mei – 15 Junie

“SING ’N NUWE LIED”

Laat ons voortgaan om onsself te verootmoedig en te bid vir ons mense en leiers in Suid-Afrika. Op die hakke van die huidige toename van ontstellende insidente wat gekoppel word met beskuldigings van rassisme en luidkeels deur sosiale media en koerante verkondig word, laat ons nie vergeet dat ons geveg nie teen “vlees en bloed” is nie! Die meerderheid mense in alle sektore en op alle vlakke van ons multikulturele en veelrassige samelewing dra die pyn wat vloei uit ’n gedeelde en soms betwiste verlede. Dit is veral merkbaar wanneer sekere potensieel-plofbare gebeure ontstaan en ongelukkig bewys dat ons nog steeds nie ’n geneesde land is nie. Gevoelens van skuld, of pyn, of bitterheid en haat smeul steeds onder die oppervlak. Mag God ons genees! 16 Junie 2016, bied aan ons so ? geleentheid.

Die onrus, protesoptredes en onluste in ons land, die verhoging van rassespanning (beklemtoon deur die sosiale media), sowel as heersende ekonomiese uitdagings, onder meer die “#Fees must fall” beweging, is alles dinge waaroor Suid-Afrikaners met goeie rede besorg is. Te midde hiervan bestaan die moontlikheid dat ons hoop vir die toekoms kan verloor, mekaar sal begin beskuldig en tot selfs tot gewelddadige aksies kan oorgaan in ’n poging om knelpunte op te los. Continue reading

DIE BYBEL DEUR GOD GEÏNSPIREER

Die Bybel is die geïnspireerde woord van God. Christene dwarsoor die wêreld glo dit met hulle hele hart. Oor die presiese aard van hierdie inspirasie, loop die menings ‘n bietjie uiteen. In 2 Timoteus 3:16 lees ons die woorde:

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer…”

Ons moet egter in gedagte hou dat toe Paulus daardie woorde aan Timoteus skryf, toe is die Kanon (Die boeke waaruit die Bybel sou bestaan) nog nie vasgestel nie.Al die boeke van die Nuwe Testament was op daardie stadium nog nie eens geskryf nie. Wat wel waarskynlik vasgestel was, was die eerste vyf boeke van die Bybel wat ongeveer 400 v.C. by Jamnia vasgemaak is en die profete wat teen ongeveer 200 v.C. gefinaliseer is. Waarskynlik praat Paulus van daardie boeke as die “hele Skrif” wat deur God geïnspireer is. Die ander boeke van die Ou Testament is waarskynlik teen ongeveer 100 n.C. gefinaliseer. Oor die 27 boeke van die Nuwe Testament word daar eers in 363 n.C. by Laodisea finaal besluit watter boeke in die Nuwe Testament sou wees.

Die Bybel soos ons hom ken het eintlik op ‘n baie laat stadium tot stand kom.  Voordat die gebeure op skrif gestel is, is dit eers mondelings oorgelewer. Die alfabet kom eers in 2000 v.C. op die toneel. Tot ongeveer 800 v.C. is die skryfkuns ook meestal beperk tot paleise ens.

Die proses waardeur die Skrif tot stand gekom het, was dit iets soos die volgende:  Continue reading

Dis Lydenstyd

WAT IS LYDENSTYD?

Lydenstyd is ’n seisoen van 46 dae waarin die kerk die lyding van Christus in herinnering roep en daarop reageer in voorbereiding op die Paasfees. Lydenstyd wys by uitstek dat God op ’n besondere wyse die God van noodlydendes, die armes en die verontregtes is en dat Christus werklik in ons nood ingedaal het.

WAAR KOM LYDENSTYD VANDAAN?

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om ter voorbereiding op Paasfees ’n vastydperk van 40 dae in te stel. Dié vas vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd sonder vleis per dag geëet is.

Tradisioneel begin die vastyd op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ’n sondaar ’n soort tughandeling en boete-oplegging deur die kerk. Later het die as ’n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ’n kruis gesmeer is.

WANNEER VIER ONS LYDENSTYD?

Omdat Christene nie op Sondae (die opstandingsdag) gevas het nie, begin Lydenstyd op ’n Woensdag, ses-en-veertig dae (veertig dae en ses Sondae) voor Paasfees.

Waar die Woensdag nie besondere aandag kry nie, begin kerke Lydenstyd op die Sondag voor dié Woensdag (dus sewe Lydensweke) en ander weer op die Sondag na die hierdié Woensdag (ses Lydenssondae).

Uit: Die Leesrooster 2010/2011

LOUIS BOTHA KINDERHUIS -STIL PASSIE

Louis Botha Kinderhuis bied hierdie jaar tydens Paasfees ‘n Passiespel met n verskil aan. Hulle gaan die gebeure in die laaste week van Jesus se lewe op die gronde van die kinderhuis op n statiese wyse uitbeeld. Mense gaan dan vir die week in die aande die geleentheid kry om deur die passiespel te stap en om die lydingsweg van Jesus op n nuwe en kreatiewe manier te beleef.

Die Kinderhuis kan dit nie op hulle eie doen nie en hulle vra daarom gemeentes se hulp. Die gemeente kan op die volgende manier help :

Kan jy op enige manier help, of deel wees van die passiespel vir die ses dae?

  1. Help met die beplanning. (Die taakgroep vergader Dinsdae-oggende om 09:00.)
  2. Help met die bou van die dekor.
  3. Help met elektriese installasies ens.
  4. Skilder van die dekor.

Indien jy kan help, kontak ds. Attie by attie@ngwaverley.co.za