Elkeen is ‘n teoloog.

In die filosofie is daar ‘n latynse term “tabula rasa”. Die uitdrukking dui op ‘n skoon stuk papier waarop daar nog niks geskryf is nie. Niemand wat hier lees is “tabula rasa” nie. Elkeen van ons het menings en oortuigings en standpunte oor feitlik alles. 

Ek dink vanoggend aan die NG Kerk en die gereformeerde tradisie waarin ons staan. Lidmate van die NG Kerk is kinders van die reformasie, die hervorming wat hierdie jaar 500 jaar terug gebeur het. Maar, die geboorte van die reformasie was nie “tabula rasa” nie. Martin Luther, Johannes Calvyn, Johannes Hus, John Knox, ens. was nie teologiese skoon bladsye. Hulle het juis uit die dominante en enigste kerk in die weste, die Rooms Katolieke Kerk weggebreek. Hulle het weggebreek omdat hulle nuut en anders oor dinge gedink het. Maar die Rooms Katolieke Kerk het tog ‘n groot invloed op hulle denke gehad.

Nie een van ons kan ons vandag losmaak van tradisie en dink dat ons ‘n skoon bladsy is waarop die Heilige Gees nou op een of ander manier gaan kom skryf nie. Elkeen van ons het ten minste menings oor die vyf temas wat in die reeks van VREUGDEVOL VRY aan die orde was. Ons is oor tyd blootgestel aan wat mense sê en preke waarna ons luister en artikel en boeke wat ons lees, wat ons menings oor hierdie sake gevorm het. Soveel so, dat elkeen wat hier lees waarskyn ‘n parragraaf sou kon skryf oor elkeen van die temas: 

Hoe dink jy word ‘n mens gered? 

Hoe verstaan jy God se genade?

Hoe verstaan jy geloof in God? 

Hoe verstaan jy die verlossingswerk van Christus Jesus? 

Wat glo jy met betrekking tot die Bybel?

Hoe eer ons God? 

As jy oor enige een van hierdie dinge ‘n mening of ‘n standpunt of ‘n oortuiging het, dan is jy ‘n teoloog en dan bedryf jy teologie. Teologie is nie gereserveer vir mense wat een of ander formele opleiding in teologie gehad het nie. Maar, belangriker, jy is nie tabula rasa nie. As jy nie kies vir ‘n bepaalde tradisie nie, gaan iemand sy tradisie aan jou oordra. 

Die reformasie het gebeur omdat die hervormers juis gesê het: Ek is ‘n bladsy, maar nie ‘n skoon bladsy waarop niks geskryf is nie. Ek is egter nie tevrede met alles wat hierdie bladsy geskryf is nie. Ek wil herskryf en oorskryf en nuut skryf en verander. Wat op Martin Luther se bladsy ontbreek het was die antwoord op hierdie vraag: Waar vind ek ‘n genadige God?

Een van die mees formidabele teoloë waarmee ek ooit in aanraking gekom het is Willie Jonker. Wille Jonker het saam met Jaap du Randt die reeks Wegwysers in die Dogmatiek geskryf. In die reeks sou Jonker (soos in sy klasse) telkens die geskiedenis van die dogmatiek (teologie) verduidelik. Met ander woorde, hy sou sê hoe teoloë in die geskiedenis oor bepaalde sake gedink het. Aan die einde van ‘n hoofstuk sou hy dan ‘n paar “riglyne” skryf waarin hy sê hoe hy dink daar vandag oor die sake gedink moet word. In die tyd het ek baie bewus geword van hoe ons oor die jare gevorm is. 

As ons terugkyk op die mooi tradisie waarin ons staan, dan help die tradisie ons om verantwoordelik en met hierdie onderwerpe om te gaan. Want hierdie onderwerpe was sentraal in die reformasie en is vandag nog steeds sentraal in die gereformeerde teologie. 

Ons word gered uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, volgens die Woord alleen, tot eer van God alleen.

DIt beteken nie dat ons vandag nog oor elkeen van hierdie dinge dink en glo presies soos daar 500 jaar terug daaroor gedink en geglo is nie. Oor die laaste 500 jaar het ons baie geleer en baie netjieser geformuleer. 

Hoe dit ook al sy, eerstens kan ons nie tradisie en geskiedenis ignoreer nie. Tweedens, is daar geen kerk, groep wat sonder tradisie of geskiedenis is nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *