DAAGLIKSE GEBED – 30 JUNIE 2016

Here, ek wonder dikwels waarom U nog moed hou met my. Watter goed  is daar in my? Watter waarde het ek? Waarom gee U nog enigsins om vir my?

Die werklikheid van U teenwoordigheid tref my dikwels eers aan die einde van die dag wanneer ek nadink oor alles wat gebeur het. Dan besef ek hoe U teenwoordig was…

toe ‘n vriend se pa soek geraak het;

in die hartseer van ‘n ma en pa wie se seun ernstig siek is;

in die god-gegewe-vrede van ‘n dogter en ‘n seun wat gereed maak om hulle pa te begrawe;

in mense wat hulle verskille begrawe ter wille van die werk van U koninkryk;

die getuienisse van mense wat die vrug sien op hulle arbeid onder jongmense en in agtergeblewe gemeenskappe;

in die vreugde van ‘n jong man vir wie die deure na ‘n nuwe toekoms uiteindelik oopgaan;

die nimmer-eindigende stryd van die persoon wat met depressie moet saamleef.

In al hierdie dinge is U teenwoordig. Ja, teenwoordig baie lank voor ek as medegelowige op die toneel verskyn om hulle van U liefde en nabyheid te verseker. 

Wat maak dat U nog omgee, Here?

Ek bid en vra so dikwels vir so baie dinge. So baie, dat ek dikwels vergeet waarvoor ek gebid het. En wanneer U gee waarvoor ek gevra het, dan besef ek nie dat U gee waarvoor ek gevra het nie, omdat daar daarna alweer soveel versoeke en gebede en noodsaaklikhede was waarvoor ek tot U geroep het.

Wat maak dat U nog na my gebede luister en hulle selfs verhoor, Here?

U gewilligheid om altyd weer te vergewe verstom my elke keer. Hoe groot moet U liefde nie wees om my te vergewe sonder dat ek enigsins iets kon of hoef te doen om daardie vergifnis te ontvang nie. U gewilligheid, Heilige Gees, om weer en weer saam met my voor te begin en te werk aan oorwinning oor die Bose, ook in my eie lewe. 

Wat maak dat U onverdiende guns en genade so sonder ophou deur my lewe spoel? 

En dan is daar die wonder van die Woord. U Woord wat altyd weer nuut is en altyd weer spreek en altyd weer lei. U Woord wat altyd weer verkwik en bemoedig en vermaan en verseker.

Wat maak dat U nog so deur U Woord met my praat, Here? 

Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

Aan U, my Here en my God, my Verlosser en my Vader, my Trooster… aan U al die eer.

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *