DIE BYBEL DEUR GOD GEÏNSPIREER

Die Bybel is die geïnspireerde woord van God. Christene dwarsoor die wêreld glo dit met hulle hele hart. Oor die presiese aard van hierdie inspirasie, loop die menings ‘n bietjie uiteen. In 2 Timoteus 3:16 lees ons die woorde:

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer…”

Ons moet egter in gedagte hou dat toe Paulus daardie woorde aan Timoteus skryf, toe is die Kanon (Die boeke waaruit die Bybel sou bestaan) nog nie vasgestel nie.Al die boeke van die Nuwe Testament was op daardie stadium nog nie eens geskryf nie. Wat wel waarskynlik vasgestel was, was die eerste vyf boeke van die Bybel wat ongeveer 400 v.C. by Jamnia vasgemaak is en die profete wat teen ongeveer 200 v.C. gefinaliseer is. Waarskynlik praat Paulus van daardie boeke as die “hele Skrif” wat deur God geïnspireer is. Die ander boeke van die Ou Testament is waarskynlik teen ongeveer 100 n.C. gefinaliseer. Oor die 27 boeke van die Nuwe Testament word daar eers in 363 n.C. by Laodisea finaal besluit watter boeke in die Nuwe Testament sou wees.

Die Bybel soos ons hom ken het eintlik op ‘n baie laat stadium tot stand kom.  Voordat die gebeure op skrif gestel is, is dit eers mondelings oorgelewer. Die alfabet kom eers in 2000 v.C. op die toneel. Tot ongeveer 800 v.C. is die skryfkuns ook meestal beperk tot paleise ens.

Die proses waardeur die Skrif tot stand gekom het, was dit iets soos die volgende: IETS GEBEUR (Hierdie gebeure kan ‘n gebeure wees, of dit kan iets wees wat hulle gehoor het), die mense heg besondere waarde of betekenis aan die gebeure en hulle INTERPRETEER die gebeure in terme van hulle geloofsoortuging. Hierdie gebeure en hulle verstaan daarvan word dan met besondere akkuraatheid OORVERTEL en OORGEDRA van geslag tot geslag. Toe die skryfkuns na vore kom word hierdie gebeure OP SKRIF GESTEL. Net soos die gebeure en die interpretasie van die gebeure met besondere akkuraatheid geskied, geskied die neerskryf ook met besondere akkuraatheid. In beide die Ou en Nuwe Testament word daar byvoorbeeld melding gemaak van ander bronne wat geraadpleeg is. Hierdie geskrewe bronne word dan op ‘n besondere manier GEKOPIEER en BEWAAR.(Daaroor dalk by ‘n ander geleentheid) Oor ‘n tydperk van ongeveer 800 jaar (400 v.C. – Jamnia – 363 n.C. Laodisea) besluit die geloofsgemeeskap watter boeke in die KANON of die Bybel sou wees.

Wanneer ons bely dat die hele skrif deur God geïnspireer is, dan glo ons dat God se Gees deur hierdie hele proses betrokke was. Die Griekse woord vir “geïnspireer: teo-pneustos. “Teo” beteken “God” en “pneustos” beteken “asem”. (“Pneuma” is byvoorbeeld ook die woord wat in Johannes 3:5 vir die Heilige Gees gebruik word.)

Met ander woorde, God het die Woord ge-asem. Ek sou my eie stem as voorbeeld kon gebruik. Wanneer ek praat, stoot ek asem deur my stembande en dan kom daar verstaanbare woorde en klanke na vore. Sonder my asem kan my stembande in perfekte toestand wees, maar daar sal geen woord uitkom nie. Hulle is eintlik niks werd nie. Op dieselfde manier het God die Bybel ge-asem. Sonder die werk van die Heilige Gees bly die Bybel swart letters op wit papier. Met en deur die werking van die Heilige Gees (God se asem) word die Bybel die lewende woord van GodDeur die werk van die Heilige Gees kom God in die Bybel aan die woord.

Alhoewel die Bybel ‘n onmisbare rol in die lewe van God se kinders speel, het ons nie ‘n verhouding met ‘n boek nie. Die boek het vir ons in mate ‘n heilige karakter, maar ons gaan nie mense doodmaak wat die Bybel sou beledig of selfs verbrand of vernietigg nie. Ons God sterf nie as ‘n boek sterf nie. Ons God brand nie as ‘n boek brand nie. Die boek is ‘n getuienis van die lewende God, ge-asem deur die lewende God. Ons het ‘n verhouding met die Een van wie die boek getuig. Die boek is vir ons ‘n middel tot ‘n doel – die doel is ‘n lewende verhouding met die lewende God. Ons het dus ‘n verhouding met die Een wat die boek ge-asem het.