DIE EVANGELIE VAN LUKAS – WIE IS HIERDIE MAN? (3)

In Lukas 8:26 is Jesus en sy dissipels in die land van die Geraseners.

Ons weet reeds (Lees HIER en HIER) dat Jesus nie net vir Jode gekom nie; Hy word gesien as ‘n profeet gelykstaande aan Elia en Elisa; Hy is die Een wat moes kom, die Messias; Hy het die mag om sondes te vergewe, wat net God kan doen. Nou is Jesus in Gedara. Die laaste plek waar Hy behoort te wees.

In Gedara bly nie-Jode, of, soos die Jode na hulle verwys het, heidene. Jesus en sy dissipels is nie lank tussen hierdie mense nie. Continue reading

DIE EVANGELIE VAN LUKAS – WIE IS HIERDIE MAN? (2)

Lukas 8 is deel van daardie gedeelte in die evangelie van Lukas waar die skrywer op ‘n baie besondere manier werk met die vraag: Wie is Jesus? Dit wil amper vir my lyk asof die skrywer in Lukas 7 en 8 die leser so stelselmatig blootstel aan die vraag en die antwoord.

In Lukas 7:1-10 genees Jesus die slaaf van ‘n Romeinse offisier. Vir my is dit treffend dat nie die slaaf of die Romeinse offisier Jode was nie. Jesus was ‘n Joodse Rabbi, maar duidelik is sy bediening nie net ingestel op of beperk tot die Jode nie.

In Lukas 7:11-16 maak Jesus die weduwee van Nain se seun gesond. Continue reading

Die Moederhart van God

Psalm 131 is een van die drie kortste Psalms. Tog is dit ’n baie besondere Psalm. In drie verse skets die skrywer ’n baie mooi prentjie van ’n reis met God. ’n Bekende Ou-Testamentikus het die volgende oor hierdie Psalm geskryf”

“Die delikate klanke van nederige vertroue klink soos die vreedsame harmonie en klokke teen die aand in ’n rustige vallei wanneer die laaste strale van die son dit met hulle sagte lig vervul.” (Weiser.)

Die skrywer skryf oor sy vreedsame tuiskoms na ’n geestelike reis.

“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” (Psalm 131:1-3)

Selfstandigheid is ’n baie belangrike kenmerk van volwassenheid. Kinders word van baie vroeg af geleer dat hulle by wyse van spreke “op hulle eie voete moet staan.” Selfstandigheid groei deur die kinderjare en die tienerjare en in jong-volwassenheid is kinders gereed om hulle vlerke te sprei en op hulle eie voete te staan – selfstandig te wees.

Wat bedoel is om mooi eienskap van volwassenheid te wees, is egter deur die moderne gemeenskap te vêr gevoer. Selfstandigheid het outonomiteit geword. Outonoom beteken om oor alles die laaste sê te hê. Geen invloede van buite beïnvloed my nie. Een van die gevolge is individualisme. Ek het niemand nodig nie en daarom het niemand my nodig nie. My lewe is my eie en wat ek met my lewe maak en hoe ek my lewe leef het niks met enige iemand anders te make nie.

Hierdie lewensbeskouing word deur die skrywer van die Psalm beskryf as “selfverheffing en hoogmoed.” Die skrywer bely dat hy nie so is nie. Die rede waarom dit vir hom so belangrik is om die Here daarvan te verseker dat hy nie so is nie, is onder ander omdat absolute onafhanklikheid of outonomiteit in Ou-Testamentiese tye ’n vreemde konsep was. 

Die Ou Testament beklemtoon die feit dat mense mekaar nodig het en van mekaar afhanklik is. Die Ou Testament beklemtoon die feit dat almal deel is van ’n gesin, familie, ’n stam en die volk. Een van die ergste strawwe wat jy ’n Jood kon aandoen was om hom af te sny van sy volksgenote. Een van die redes waarom melaatsheid en ander aansteeklike siektes so erg was, was omdat jy vir daardie tyd buite die laer moes lewe en met niemand in aanraking mag kom nie. In Ou-Testamentiese tye het die individu het nie alleen seggenskap oor sy lewe gehad nie. Alles wat hy gedoen het, het ander geraak.

Iemand wat homself skuldig maak aan selfverheffing en hoogmoed het homself ook losgemaak van die volk.

Alhoewel dit nie met die eerste oogopslag so lyk nie, vertel die skrywer van sy stryd teen selfverheffing en hoogmoed.

 “Selfverheffing en hoogmoed is nie daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.” (Psalm 131:1)

’n Mens sou dalk nog kon sê dat onafhanklikheid en outonomiteit tog sekerlik nie so ernstig is nie. Selfstandigheid hoef mos nie so ’n groot probleem te wees nie. Dalk is dit waar, maar daar is twee probleme. Die eerste is dat outonomiteit my verhouding met mense negatief raak. Inidvidualisme kommunikeer ’n boodskap sê: “Ek het jou nie nodig nie. EK kom goed genoeg reg op my eie dankie. Mense beleef: Ek is beter as julle.

 Die tweede probleem is natuurlik dat ons ook met betrekking tot God outonoom raak. Dies skrywer van die Psalm stel dit so: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.”

 In Matteus 6:25-34 praat Jesus met die mense oor die sorge van die lewe. Jesus sê: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe…” Deur selfverheffing en hoogmoed kan ons dalk net vir God onttroon. Ek raak besorg oor groot dinge wat bo my vermoë is en waaroor ek geen beheer het nie. In Matteus 6:26 staan daar: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie, julle Hemelse Vader sorg vir hulle.” Absolute selfstandigheid of onafhanklikheid maak God oorbodig. ’n Outonome mens is vir alles van homself afhanklik. “I am the captain of my ship, the master of my soul.” Nie lank nie dan begeef ek my op God se terrein en dan is ek bekommerd oor die dinge wat net God beheer oor het.

Wat nou van môre? Wat van my toekoms? Hoe moet ek al hierdie dinge wat nou besig is om te gebeur verstaan? Hoe gaan ek my en my gesin beskerm? Wanneer tref al hierdie dinge ons land? God is onttroon, nou is al hierdie dinge my verantwoordelikheid.

Een van die groot mites van ons lewe is enige mens vry kan wees van enige vorm van afhanklikheid.  Selfverheffing en hoogmoed veroorsaak dat ’n mens later daardie mite begin glo. Hierdie is baie gevaarlike roete om te volg. Die duiwel is die duiwel as gevolg van selfverheffing, hoogmoed en omdat hy God wou wees. Die mens is ’n gevalle mens met ’n inherente geneigdheid tot sonde as gevolg van selfverheffing, hoogmoed en omdat hy God wou wees.

In Matteus 6:27 staan daar:

“ Trouens wie van julle kan deur Hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng.” (Matteus 6:27) 

Die boodskap van Matteus is dat God sorg en dat ons in alles van God afhanklik is en dat ons Hom moet vertrou. Die heel eerste van die saligsprekinge van Jesus is: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van God.” (Matteus 5:3)

Die skrywer van Psalm 131 het hierdie saligspreking as waar beleef. Hy skryf:

 “Ek het rus en kalmte gevind.”(Psalm 131:2a)

Dalk soos ’n mossie wat rus vind by God se altare. Dalk soos ’n wilde voël wat kommervry deur die lug vlieg of ’n veldlelie wat in al haar prag blom, selfs al is daar niemand om dit raak te sien en te waardeer nie. “Ek het rus en kalmte gevind.”

Die 1953 vertaling stel die vers besonder mooi:

“Waarlik ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak…”

Hierdie hele sin beskryf iets van die worstelstryd waarna ek in die begin verwys het. “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak…”

Kan jy jou die stryd indink? ’n Lang stryd teen strewe na eer, rykdom, erkenning van mense, status, drome, ideale. Watter groot stryd is dit nie wanneer ons begin besef dat ons hierdie dinge moet prysgee nie. Alles in my skop daarteen, want dit is die algemeen aanvaarde norm en standaard. Strewe na soveel eer, rykdom, erkenning van mense, status as moontlik. Droom groot en stel vir jouself reuse doelwitte, dan werk jy daaraan want jy is self verantwoordelik vir is sukses in jou lewe. Niemand gaan dit vir jou doen  as jy dit nie vir jouself doen nie. Probeer bietjie van hierdie dinge prysgee. Beleef bietjie hoe jou siel roep en smeek en rebelleer  teen die prysgawe. Selfverheffing, hoogmoed en bekommerd wees oor dinge wat bo my vermoë is pomp sterk deur ons are.

Die skrywer sê: “Waarlik…” – kan jy dit glo. Ek het dit reggekry. Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak. EK het rus en kalmte gevind.

Die stemme het stil geraak. Die geroep het verdwyn. Hulle is nog daar, maar ek het geleer om dit te ignoreer. Ek het dit reggekry. Wat die lewe my geleer het, is dat die stemme wat my opwaarts roep en wat die selfverheffing en hoogmoed meer maak, net nooit versadig raak nie. Geen prestasie is genoeg nie. Geen mylpaal is die einde nie. Geen droom is die laaste nie. Altyd nog een. Ek probeer my bes, maar hierdie drang is onversadigbaar. My hart pomp net eenvoudig hierdie bloed te vinnig deur my are. Ek kom nooit bo nie. Daar is nie rus nie.

Gewoonlik weet ’n mens nie presies hoe jy by die punt gekom het waar jou siel tot bedaring gekom het en stil geraak het nie. Wat jy wel weet is dat dit nie ’n vanselfsprekende plek is om te wees nie. Dikwels het dit begin toe een of ander ander kruk skielik onder jou meegegee het. ’n Kruk soos gesondheid, of voorspoed, besittings, jeug, krag, verstand, dierbares, posisie, aansien.

Wanneer een van die krukke in ’n mens se lewe wegval, veroorsaak dit ’n krisis in ’n mens se lewe. ’n Kruk wat wegval is ’n krisis in enige mens se lewe. So ’n krisis het dan al die potensiaal om ’n draaipunt in ’n mens se lewe te begin. Indien so ’n krisis ’n draaipunt veroorsaak in ’n mens se lewe, is dit die begin van lang reis.

Die ideaal is natuurlik dat ons nie sal wag tot een van die krukke wegval nie. Daarom vanoggend se boodskap. Die omdraai en die stryd teen hierdie dinge is erg genoeg soos dit is. Indien dit gepaard gaan met een of ander groot krisis in ’n mens se lewe is dit soveel erger. Geloofsgevaarlik. Krisisse is ’n reuse-uitdaging vir ’n mens se geloof. Krisis saam met die stryd teen selfverheffing en hoogmoed, maak dit soveel erger. Jy kan dalk net besluit dat dit nie die moeite werd is om in God te glo nie.

’n Draaipunt as die begin van ’n reis. Dikwels ’n lang reis. ’n Reis wat gekenmerk word deur ’n stryd om my siel tot bedaring te bring en stil te maak.

Die manier waarop die skrywer sy tuiskoms beskryf is dak die mooiste uitdrukking in hierdie Psalm:

“… soos ’n gespeende kind by sy moeder.” (Psalm 131:2 1953 Vertaling)

“Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het.” (Nuwe Vertaling)

Wat ’n wonderlike eindbestemming is hierdie nie.

Vir ’n babatjie is ’n ma ’n gebruiksartikel. ’n Ma is die sleutel na kos en versorging. Alhoewel daar ’n besondere band tussen ’n ma en ’n babatjie bestaan, sien die babatjie die ma as die een wat op sy/haar behoeftes moet reageer. ’n Babatjie huiwer nie om op sy ma te skree nie. ’n Babatjie word soms woedend kwaad vir ’n ma as sy iets doen waarvan hy nie hou nie. Die babatjie dring met alles wat hy is en alles wat hy het daarop aan dat dinge moet gebeur soos hy wil hê dit moet gebeur op die tyd wat hy wil hê dit moet gebeur.

Met die verloop van tyd begin die ma egter ook ‘n ander rol speel nie. Die babatjie word gespeen en word ’n kleuter.  Hierdie speen-proses is gewoonlik om en by 3-jarige ouderdom voltrek. Skielik ontdek hierdie babatjie wat ’n kind geword het, dat sy ma nie sy gelyke is nie. Hy is nie gelyk aan sy ma nie. ’n Gespeende kind soek nie meer die by-produkte nie. ’n Gespeende kind het geleer dat ’n ma baie meer het om te gee as net die basiese dinge soos kos en versorging en beskerming. ’n Gespeende kind begin besef: My ma het ’n warm hart. Hy weet: As ek op haar skoot gaan sit, sal ek haar hartklop teen my wang kan voel. Daardie hartklop sal alles rustig maak binne-in hom. Ja, sy siel sal tot bedaring kom en alle ander stemme sal vervaag.

Natuurlik haal hy so nou en dan weer die baba-streke uit, maar nie lank nie, dan bring hy/sy opstandige gemoed tot bedaring. Dan is ma se skoot weer die beste plek om te wees.

“Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”

Wanneer jy weer ’n ma en haar kleuter sien, hou bietjie die interaksie dop. Alles wat jy daar sien gebeur is wat hierdie vers wil beskryf. Die kind is nou nie meer ’n pap babatjie nie. Die kind reageer op die ma se speel en speel en lag saam. Hierdie is die ouderdom wanneer die ma besondere vreugde en plesier uit haar kind se lewe kry. Die kind beleef op sy beurt ’n sorgelose tevredenheid wat hy net by sy ma kan kry.

Die skrywer se laaste woorde is:

“Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” (Psalm 131:3)

God se rus is nie net vir die individu bedoel nie. God se rus is vir almal bedoel. Wie op hierdie manier by God rus gevind het, wil ook sy rus met ander deel. “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Wanneer die stilte van ’n moeder se skoot en hartklop oor jou neerdaal  en van jou besit neem, is daar net een ding wat jy kan doen: Wag. Moet nie self die antwoorde soek nie. Die antwoord is groter as jyself. Rus by die Here. Leef met ’n kruisgesindheid. Leef as iemand wat ter wille van die Koning van die kerk alles prysgegee het soos Hy alles ter wille van ons prysgegee het en selfs minder as ’n slaaf geword het. Wag op die Here. Gemeente, wees ’n toonbeeld, ’n voorbeeld van totale afhanklikheid van die Here.

 

PADKAART NA RUS EN VREDE

Die skrywer het op een of ander manier sy rustelose siel tot bedaring gebring en stilgemaak. Hy verlang nie meer na God omdat God dalk iets vir Hom kan gee wat hy nog altyd voor gehoop het en altyd wou gehad het nie. Hy het geleer dat ’n wegloopkind net een eindpunt het en dit is bedelaar op die hoeke van strate – of dan besig om varke op te pas sonder enige iets om te eet.

God is nie meer die Een wat in al sy behoeftes moet voorsien nie. Hy verlang nou na God ter wille van God self. Wat ek in hierdie Psalm lees is dat die skrywer sê: Ek behoort aan die Here. As ek dan aan die Here behoort, is daar niks wat vir my tevredenheid sal bring nie. Geen gemak, geen plesier nie, niks sal vir my rus en vrede bring nie. Selfs al sou ek die volle beker van die wêreld se vreugde  en genietinge tot op die bodem drink, sal ek steeds nie rus gevind het nie. Ek sal steeds dors wees. Net by God vind ek rus. Net Hy les my dors.

Dan weet ek: Niks kan my skei van die liefde van God nie. Die liefde wat daar vir my in Christus Jesus is nie.

Niks bring ’n kind so tot rus as sy moeder se skoot nie. Selfs in die raserigste geselskap en die besigste omgewing, kan ’n moeë kind binne ’n paar minute op sy ma se skoot aan die slaap raak en rus. Somtyds het ons so nodig om net ’n bietjie te vergeet van alles wat nog gedoen moet word en die lewe wat geleef moet word. Soms moet ons net alles in ons tot bedaring bring en dit stil maak, sodat ons tevrede kan wees. “Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het.”  

Wag op die Here. Raak op God se skoot aan die slaap.

Wag op die Here. Laat God toe om jou te  vertroetel.

Wag op die Here. laat God toe om sy arms om jou te vou en jou vas te hou.

Wag op die Here. Nou en vir altyd.