Waarom vier ons iets wat 500 jaar terug gebeur het?

Gereformeerde kerke (Waarvan die NG Kerk een is) dwarsoor die wêreld vier hierdie jaar Reformasie 500. Op 31 Oktober 2017 het Martin Luther ‘n reformasie begin toe hy sy 95 stellinge aan die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Met hierdie optrede het hy die kerk van sy dag (die Rooms Katolieke Kerk) uitgedaag oor hulle kerkwees en hulle teologie. 

Ons as gereformeerde kerke is God diep en innig dankbaar vir die gebeure waarvan ons vandag nog die vrugte pluk. Continue reading

DIE EVANGELIE VAN LUKAS – WIE IS HIERDIE MAN? (3)

In Lukas 8:26 is Jesus en sy dissipels in die land van die Geraseners.

Ons weet reeds (Lees HIER en HIER) dat Jesus nie net vir Jode gekom nie; Hy word gesien as ‘n profeet gelykstaande aan Elia en Elisa; Hy is die Een wat moes kom, die Messias; Hy het die mag om sondes te vergewe, wat net God kan doen. Nou is Jesus in Gedara. Die laaste plek waar Hy behoort te wees.

In Gedara bly nie-Jode, of, soos die Jode na hulle verwys het, heidene. Jesus en sy dissipels is nie lank tussen hierdie mense nie. Continue reading

DIE EVANGELIE VAN LUKAS – WIE IS HIERDIE MAN? (2)

Lukas 8 is deel van daardie gedeelte in die evangelie van Lukas waar die skrywer op ‘n baie besondere manier werk met die vraag: Wie is Jesus? Dit wil amper vir my lyk asof die skrywer in Lukas 7 en 8 die leser so stelselmatig blootstel aan die vraag en die antwoord.

In Lukas 7:1-10 genees Jesus die slaaf van ‘n Romeinse offisier. Vir my is dit treffend dat nie die slaaf of die Romeinse offisier Jode was nie. Jesus was ‘n Joodse Rabbi, maar duidelik is sy bediening nie net ingestel op of beperk tot die Jode nie.

In Lukas 7:11-16 maak Jesus die weduwee van Nain se seun gesond. Continue reading

Dis Lydenstyd

WAT IS LYDENSTYD?

Lydenstyd is ’n seisoen van 46 dae waarin die kerk die lyding van Christus in herinnering roep en daarop reageer in voorbereiding op die Paasfees. Lydenstyd wys by uitstek dat God op ’n besondere wyse die God van noodlydendes, die armes en die verontregtes is en dat Christus werklik in ons nood ingedaal het.

WAAR KOM LYDENSTYD VANDAAN?

Die Westerse kerk het in die tweede helfte van die vierde eeu in navolging van die Oosterse kerk begin om ter voorbereiding op Paasfees ’n vastydperk van 40 dae in te stel. Dié vas vas het meestal beteken dat slegs een maaltyd sonder vleis per dag geëet is.

Tradisioneel begin die vastyd op Aswoensdag. Aanvanklik was die plaas van die as op die kop van ’n sondaar ’n soort tughandeling en boete-oplegging deur die kerk. Later het die as ’n meer seremoniële funksie gekry waarin die as, gewoonlik van die vorige jaar se palmtakke, op die voorkop van die lidmate in die vorm van ’n kruis gesmeer is.

WANNEER VIER ONS LYDENSTYD?

Omdat Christene nie op Sondae (die opstandingsdag) gevas het nie, begin Lydenstyd op ’n Woensdag, ses-en-veertig dae (veertig dae en ses Sondae) voor Paasfees.

Waar die Woensdag nie besondere aandag kry nie, begin kerke Lydenstyd op die Sondag voor dié Woensdag (dus sewe Lydensweke) en ander weer op die Sondag na die hierdié Woensdag (ses Lydenssondae).

Uit: Die Leesrooster 2010/2011

Die Moederhart van God

Psalm 131 is een van die drie kortste Psalms. Tog is dit ’n baie besondere Psalm. In drie verse skets die skrywer ’n baie mooi prentjie van ’n reis met God. ’n Bekende Ou-Testamentikus het die volgende oor hierdie Psalm geskryf”

“Die delikate klanke van nederige vertroue klink soos die vreedsame harmonie en klokke teen die aand in ’n rustige vallei wanneer die laaste strale van die son dit met hulle sagte lig vervul.” (Weiser.)

Die skrywer skryf oor sy vreedsame tuiskoms na ’n geestelike reis.

“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” (Psalm 131:1-3)

Selfstandigheid is ’n baie belangrike kenmerk van volwassenheid. Kinders word van baie vroeg af geleer dat hulle by wyse van spreke “op hulle eie voete moet staan.” Selfstandigheid groei deur die kinderjare en die tienerjare en in jong-volwassenheid is kinders gereed om hulle vlerke te sprei en op hulle eie voete te staan – selfstandig te wees.

Wat bedoel is om mooi eienskap van volwassenheid te wees, is egter deur die moderne gemeenskap te vêr gevoer. Selfstandigheid het outonomiteit geword. Outonoom beteken om oor alles die laaste sê te hê. Geen invloede van buite beïnvloed my nie. Een van die gevolge is individualisme. Ek het niemand nodig nie en daarom het niemand my nodig nie. My lewe is my eie en wat ek met my lewe maak en hoe ek my lewe leef het niks met enige iemand anders te make nie.

Hierdie lewensbeskouing word deur die skrywer van die Psalm beskryf as “selfverheffing en hoogmoed.” Die skrywer bely dat hy nie so is nie. Die rede waarom dit vir hom so belangrik is om die Here daarvan te verseker dat hy nie so is nie, is onder ander omdat absolute onafhanklikheid of outonomiteit in Ou-Testamentiese tye ’n vreemde konsep was. 

Die Ou Testament beklemtoon die feit dat mense mekaar nodig het en van mekaar afhanklik is. Die Ou Testament beklemtoon die feit dat almal deel is van ’n gesin, familie, ’n stam en die volk. Een van die ergste strawwe wat jy ’n Jood kon aandoen was om hom af te sny van sy volksgenote. Een van die redes waarom melaatsheid en ander aansteeklike siektes so erg was, was omdat jy vir daardie tyd buite die laer moes lewe en met niemand in aanraking mag kom nie. In Ou-Testamentiese tye het die individu het nie alleen seggenskap oor sy lewe gehad nie. Alles wat hy gedoen het, het ander geraak.

Iemand wat homself skuldig maak aan selfverheffing en hoogmoed het homself ook losgemaak van die volk.

Alhoewel dit nie met die eerste oogopslag so lyk nie, vertel die skrywer van sy stryd teen selfverheffing en hoogmoed.

 “Selfverheffing en hoogmoed is nie daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.” (Psalm 131:1)

’n Mens sou dalk nog kon sê dat onafhanklikheid en outonomiteit tog sekerlik nie so ernstig is nie. Selfstandigheid hoef mos nie so ’n groot probleem te wees nie. Dalk is dit waar, maar daar is twee probleme. Die eerste is dat outonomiteit my verhouding met mense negatief raak. Inidvidualisme kommunikeer ’n boodskap sê: “Ek het jou nie nodig nie. EK kom goed genoeg reg op my eie dankie. Mense beleef: Ek is beter as julle.

 Die tweede probleem is natuurlik dat ons ook met betrekking tot God outonoom raak. Dies skrywer van die Psalm stel dit so: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.”

 In Matteus 6:25-34 praat Jesus met die mense oor die sorge van die lewe. Jesus sê: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe…” Deur selfverheffing en hoogmoed kan ons dalk net vir God onttroon. Ek raak besorg oor groot dinge wat bo my vermoë is en waaroor ek geen beheer het nie. In Matteus 6:26 staan daar: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie, julle Hemelse Vader sorg vir hulle.” Absolute selfstandigheid of onafhanklikheid maak God oorbodig. ’n Outonome mens is vir alles van homself afhanklik. “I am the captain of my ship, the master of my soul.” Nie lank nie dan begeef ek my op God se terrein en dan is ek bekommerd oor die dinge wat net God beheer oor het.

Wat nou van môre? Wat van my toekoms? Hoe moet ek al hierdie dinge wat nou besig is om te gebeur verstaan? Hoe gaan ek my en my gesin beskerm? Wanneer tref al hierdie dinge ons land? God is onttroon, nou is al hierdie dinge my verantwoordelikheid.

Een van die groot mites van ons lewe is enige mens vry kan wees van enige vorm van afhanklikheid.  Selfverheffing en hoogmoed veroorsaak dat ’n mens later daardie mite begin glo. Hierdie is baie gevaarlike roete om te volg. Die duiwel is die duiwel as gevolg van selfverheffing, hoogmoed en omdat hy God wou wees. Die mens is ’n gevalle mens met ’n inherente geneigdheid tot sonde as gevolg van selfverheffing, hoogmoed en omdat hy God wou wees.

In Matteus 6:27 staan daar:

“ Trouens wie van julle kan deur Hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng.” (Matteus 6:27) 

Die boodskap van Matteus is dat God sorg en dat ons in alles van God afhanklik is en dat ons Hom moet vertrou. Die heel eerste van die saligsprekinge van Jesus is: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van God.” (Matteus 5:3)

Die skrywer van Psalm 131 het hierdie saligspreking as waar beleef. Hy skryf:

 “Ek het rus en kalmte gevind.”(Psalm 131:2a)

Dalk soos ’n mossie wat rus vind by God se altare. Dalk soos ’n wilde voël wat kommervry deur die lug vlieg of ’n veldlelie wat in al haar prag blom, selfs al is daar niemand om dit raak te sien en te waardeer nie. “Ek het rus en kalmte gevind.”

Die 1953 vertaling stel die vers besonder mooi:

“Waarlik ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak…”

Hierdie hele sin beskryf iets van die worstelstryd waarna ek in die begin verwys het. “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak…”

Kan jy jou die stryd indink? ’n Lang stryd teen strewe na eer, rykdom, erkenning van mense, status, drome, ideale. Watter groot stryd is dit nie wanneer ons begin besef dat ons hierdie dinge moet prysgee nie. Alles in my skop daarteen, want dit is die algemeen aanvaarde norm en standaard. Strewe na soveel eer, rykdom, erkenning van mense, status as moontlik. Droom groot en stel vir jouself reuse doelwitte, dan werk jy daaraan want jy is self verantwoordelik vir is sukses in jou lewe. Niemand gaan dit vir jou doen  as jy dit nie vir jouself doen nie. Probeer bietjie van hierdie dinge prysgee. Beleef bietjie hoe jou siel roep en smeek en rebelleer  teen die prysgawe. Selfverheffing, hoogmoed en bekommerd wees oor dinge wat bo my vermoë is pomp sterk deur ons are.

Die skrywer sê: “Waarlik…” – kan jy dit glo. Ek het dit reggekry. Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak. EK het rus en kalmte gevind.

Die stemme het stil geraak. Die geroep het verdwyn. Hulle is nog daar, maar ek het geleer om dit te ignoreer. Ek het dit reggekry. Wat die lewe my geleer het, is dat die stemme wat my opwaarts roep en wat die selfverheffing en hoogmoed meer maak, net nooit versadig raak nie. Geen prestasie is genoeg nie. Geen mylpaal is die einde nie. Geen droom is die laaste nie. Altyd nog een. Ek probeer my bes, maar hierdie drang is onversadigbaar. My hart pomp net eenvoudig hierdie bloed te vinnig deur my are. Ek kom nooit bo nie. Daar is nie rus nie.

Gewoonlik weet ’n mens nie presies hoe jy by die punt gekom het waar jou siel tot bedaring gekom het en stil geraak het nie. Wat jy wel weet is dat dit nie ’n vanselfsprekende plek is om te wees nie. Dikwels het dit begin toe een of ander ander kruk skielik onder jou meegegee het. ’n Kruk soos gesondheid, of voorspoed, besittings, jeug, krag, verstand, dierbares, posisie, aansien.

Wanneer een van die krukke in ’n mens se lewe wegval, veroorsaak dit ’n krisis in ’n mens se lewe. ’n Kruk wat wegval is ’n krisis in enige mens se lewe. So ’n krisis het dan al die potensiaal om ’n draaipunt in ’n mens se lewe te begin. Indien so ’n krisis ’n draaipunt veroorsaak in ’n mens se lewe, is dit die begin van lang reis.

Die ideaal is natuurlik dat ons nie sal wag tot een van die krukke wegval nie. Daarom vanoggend se boodskap. Die omdraai en die stryd teen hierdie dinge is erg genoeg soos dit is. Indien dit gepaard gaan met een of ander groot krisis in ’n mens se lewe is dit soveel erger. Geloofsgevaarlik. Krisisse is ’n reuse-uitdaging vir ’n mens se geloof. Krisis saam met die stryd teen selfverheffing en hoogmoed, maak dit soveel erger. Jy kan dalk net besluit dat dit nie die moeite werd is om in God te glo nie.

’n Draaipunt as die begin van ’n reis. Dikwels ’n lang reis. ’n Reis wat gekenmerk word deur ’n stryd om my siel tot bedaring te bring en stil te maak.

Die manier waarop die skrywer sy tuiskoms beskryf is dak die mooiste uitdrukking in hierdie Psalm:

“… soos ’n gespeende kind by sy moeder.” (Psalm 131:2 1953 Vertaling)

“Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het.” (Nuwe Vertaling)

Wat ’n wonderlike eindbestemming is hierdie nie.

Vir ’n babatjie is ’n ma ’n gebruiksartikel. ’n Ma is die sleutel na kos en versorging. Alhoewel daar ’n besondere band tussen ’n ma en ’n babatjie bestaan, sien die babatjie die ma as die een wat op sy/haar behoeftes moet reageer. ’n Babatjie huiwer nie om op sy ma te skree nie. ’n Babatjie word soms woedend kwaad vir ’n ma as sy iets doen waarvan hy nie hou nie. Die babatjie dring met alles wat hy is en alles wat hy het daarop aan dat dinge moet gebeur soos hy wil hê dit moet gebeur op die tyd wat hy wil hê dit moet gebeur.

Met die verloop van tyd begin die ma egter ook ‘n ander rol speel nie. Die babatjie word gespeen en word ’n kleuter.  Hierdie speen-proses is gewoonlik om en by 3-jarige ouderdom voltrek. Skielik ontdek hierdie babatjie wat ’n kind geword het, dat sy ma nie sy gelyke is nie. Hy is nie gelyk aan sy ma nie. ’n Gespeende kind soek nie meer die by-produkte nie. ’n Gespeende kind het geleer dat ’n ma baie meer het om te gee as net die basiese dinge soos kos en versorging en beskerming. ’n Gespeende kind begin besef: My ma het ’n warm hart. Hy weet: As ek op haar skoot gaan sit, sal ek haar hartklop teen my wang kan voel. Daardie hartklop sal alles rustig maak binne-in hom. Ja, sy siel sal tot bedaring kom en alle ander stemme sal vervaag.

Natuurlik haal hy so nou en dan weer die baba-streke uit, maar nie lank nie, dan bring hy/sy opstandige gemoed tot bedaring. Dan is ma se skoot weer die beste plek om te wees.

“Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”

Wanneer jy weer ’n ma en haar kleuter sien, hou bietjie die interaksie dop. Alles wat jy daar sien gebeur is wat hierdie vers wil beskryf. Die kind is nou nie meer ’n pap babatjie nie. Die kind reageer op die ma se speel en speel en lag saam. Hierdie is die ouderdom wanneer die ma besondere vreugde en plesier uit haar kind se lewe kry. Die kind beleef op sy beurt ’n sorgelose tevredenheid wat hy net by sy ma kan kry.

Die skrywer se laaste woorde is:

“Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” (Psalm 131:3)

God se rus is nie net vir die individu bedoel nie. God se rus is vir almal bedoel. Wie op hierdie manier by God rus gevind het, wil ook sy rus met ander deel. “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Wanneer die stilte van ’n moeder se skoot en hartklop oor jou neerdaal  en van jou besit neem, is daar net een ding wat jy kan doen: Wag. Moet nie self die antwoorde soek nie. Die antwoord is groter as jyself. Rus by die Here. Leef met ’n kruisgesindheid. Leef as iemand wat ter wille van die Koning van die kerk alles prysgegee het soos Hy alles ter wille van ons prysgegee het en selfs minder as ’n slaaf geword het. Wag op die Here. Gemeente, wees ’n toonbeeld, ’n voorbeeld van totale afhanklikheid van die Here.

 

PADKAART NA RUS EN VREDE

Die skrywer het op een of ander manier sy rustelose siel tot bedaring gebring en stilgemaak. Hy verlang nie meer na God omdat God dalk iets vir Hom kan gee wat hy nog altyd voor gehoop het en altyd wou gehad het nie. Hy het geleer dat ’n wegloopkind net een eindpunt het en dit is bedelaar op die hoeke van strate – of dan besig om varke op te pas sonder enige iets om te eet.

God is nie meer die Een wat in al sy behoeftes moet voorsien nie. Hy verlang nou na God ter wille van God self. Wat ek in hierdie Psalm lees is dat die skrywer sê: Ek behoort aan die Here. As ek dan aan die Here behoort, is daar niks wat vir my tevredenheid sal bring nie. Geen gemak, geen plesier nie, niks sal vir my rus en vrede bring nie. Selfs al sou ek die volle beker van die wêreld se vreugde  en genietinge tot op die bodem drink, sal ek steeds nie rus gevind het nie. Ek sal steeds dors wees. Net by God vind ek rus. Net Hy les my dors.

Dan weet ek: Niks kan my skei van die liefde van God nie. Die liefde wat daar vir my in Christus Jesus is nie.

Niks bring ’n kind so tot rus as sy moeder se skoot nie. Selfs in die raserigste geselskap en die besigste omgewing, kan ’n moeë kind binne ’n paar minute op sy ma se skoot aan die slaap raak en rus. Somtyds het ons so nodig om net ’n bietjie te vergeet van alles wat nog gedoen moet word en die lewe wat geleef moet word. Soms moet ons net alles in ons tot bedaring bring en dit stil maak, sodat ons tevrede kan wees. “Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het.”  

Wag op die Here. Raak op God se skoot aan die slaap.

Wag op die Here. Laat God toe om jou te  vertroetel.

Wag op die Here. laat God toe om sy arms om jou te vou en jou vas te hou.

Wag op die Here. Nou en vir altyd.

“Bid werk nie,”sê dominee.

Dieselfde opskrif was Dinsdag 1 Maart op die voorblad van die Beeld. Die eerste paragraaf lui: “Gebed in die vorm van versoeke rig aan God werk nie, meen ds. Albert Cruywagen van die NG gemeente Riebeeckpark in Kempton Park.”

Ds. Albert verwys dan na drie gesinne wat gebid het dat God hul kinders moet bewaar en elkeen van dié gesinne het twee kinders in padongelukke verloor. Op grond daarvan maak hy dan die opmerking dat dit nie is hoe gebed werk nie. Hy sê dat dit ook nie sal help om te bid vir reën nie, omdat God nie in die weerstelsels ingryp nie.

Ek weet nie of ’n mens so oor die saak kan redeneer nie. Ek ken mense wat in motorongelukke dood is ten spyte van die feit dat hulle veiligheidsgordels gedra het. Sou dit dan beteken dat ons moet ophou om veiligheidsgordels te gebruik? Daar is natuurlik ook die redenasie dat daar weer miljoene mense is wat sou kon sê dat hulle elke keer bid dat hulle kinders en gesinne bewaar moet word en nog nooit is een van hulle naasbestaandes in ongelukke dood nie.

Gebed is vir ds. Albert ’n selfgesprek waar God die aanhoorder is. Ek stem saam. God is die aanhoorder van elkeen van ons gebede. By ds. Albert kry ek die idee God is ’n passiewe hoorder wat nie op die gebed gaan reageer nie. Ek wonder of dit ’n verskil sou gemaak het indien God dan nie ’n aanhoorder was nie? Sou ons dan nie inderdaad kan volstaan met ’n goeie selfgesprek en God geheel en al buite rekening laat nie? Hoekom dan hoegenaamd vir God by die selfgesprek betrek?

God is nie net die aanhoorder van gebed nie, maar ook die verhoorder van gebede wat dan wel dikwels gee wat ons vra.

In die berig staan daar: “Ten diepste gaan dit oor die manier waarop ’n mens God verstaan.” Ek dink  die opmerking behoort die kern van die gesprek te wees. Ek verstaan God nie. Ek verstaan nie hoe die een gesin bid dat almal veilig moet wees en dan gebeur dit en die ander gesin bid dieselfde gebed en dan verloor hulle hul kinders.

Met tye het ons die allesoorheersende behoefte om alles te verstaan en alles te verklaar. Die verhoring van gebed al dan nie, is een van daardie sake. As ek bid en dinge gebeur nie soos ek in my gebed gevra het nie, dan moet ek God reduseer tot “iets” wat ek kan verklaar en verstaan. Die enigste sinvolle verklaring is dat God hoor, maar Hy gaan niks doen nie. Hoe verstaan ek dan vir God? Ek verstaan dat ek God nie verstaan nie en ook nie kan verstaan nie. God is vir soveel van sy kinders die God wat ons nooit in hierdie lewe ten volle sal ken nie. Ek is bereid om met geloofsoë na God te kyk met die verwagting dat Hy soos ’n diamant sal wees waarvan ek nooit elke hoek klaar gesien sal hê nie.

Ek aanvaar op grond van die Woord dat God wel aan ons die voorreg gee om met al ons behoeftes in gebed na Hom toe te kom. Jesus het ons ook geleer om vir ons daaglikse brood te bid. Ek het nie ’n antwoord op die vraag waarom daardie gesinne se kinders dood is ten spyte van die feit dat hulle daarvoor gebid het nie. Net so kan ek ook nie verklaar waarom ander miljoene gesinne veilig gery het nadat daar gebid is nie.

Ds. Albert verwys na homself as “die ridder op die wit perd wat tot die kerk se redding kom.” Ek vertrou maar dat die opmerking in die berig anders bedoel is as wat dit op swart en wit lyk. Ek kan nie anders as om te sê dat dit klein bietjie aanmatigend sou wees om so oor jouself en die rol wat jy binne die kerk sou kon speel te dink. Indien hy dit wel so bedoel het, is ek jammer om te sê dat ons nie so ’n ridder op ’n wit perd nodig het nie. Daarmee is die bedoeling nie om te sê dat ons nie met mekaar mag praat nie en dat ek nie met hom hieroor sal praat nie. Die probleem is dat ds. Albert homself nou byna ’n onaantasbare status toegeëien het. 

Ds. Albert meld ook dat hy staan by die Bybel as die Woord van God en die belydenisskrifte, maar nou sal hy dalk moet verduidelik met wat hy bedoel wanneer hy praat van “staan by die Bybel as die Woord van God”. Ons verstaan God nie dieselfde nie, so dit sal besmoontlik ook wees dat ons nie dieselfde bedoel wanneer ons sê dat ons die Bybel as die Woord van God aanvaar nie. Ek sou dus my verstaan van gebed nie afhanklik maak van ds. Albert se ervaring van gebede wat nie verhoor is nie en ook nie van ander mense se getuienis dat hulle gebede wel verhoor is nie. Ek sal dan eerder terugval op die Woord wat in hierdie opsig vir my tog ’n duidelike aanduiding gee oor hoe ek oor gebed moet dink:

“Vra en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:7-11) 

Indien gebed gereduseer word tot n geleentheid waar ek my inkopielys na God toe neem en die reg het om van Hom te verwag om alles te doen wat ek vra, dan is ek bevrees het ds. Albert die goeie reg om hierdie vorm van kritiek uit te spreek. Gebed is baie meer as net n versoek-lysie. Gebed is die kern van n verhouding tussen mens en God.

Welkom Anru

Tydens die kerkraadsvergadering van 20 September 2010, besluit die kerkraad dat Anru Hein Liebenberg, wat hierdie jaar ’n finale jaar student in teologie aan die Universiteit van Pretoria sal wees, die praktiese deel van sy opleiding onder die vleuels van die Waverley gemeente mag doen. Hy sal gedurende 2011 vir ds. Attie bystaan in die Cunninghamlaan bedieningspunt, maar by al die aspekte van die bediening by beide spunte betrokke wees. Manie Groenewald het by hom gaan besoek aflê om meer van hom uit te vind, en skryf soos volg:

Anru se koshuiskamer is ’n verrassing. Dis nie die knap studente hokkie wat mens sou verwag met klerekas, lessenaar, boekrak en enkelbed nie, dis ’n tweevertrek kompleks met die studeerkamer apart van die slaapkamer. Dit, verneem ek, is een van die voordele wat die voorsitter van Mopanie koshuis se huiskomitee mag geniet.

Eerste wat my opval toe ek sy studeerkamer instap, is die notas met aanhalings wat bo Anru se lessenaar teen sy onthoubord vasgesteek is. Ek lees: Jak. 1:19: Julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. – Dus: Hou jou bek!

Behalwe die lessenaar en boekrak (vól boeke), is daar ’n gerieflike rusbank en ’n klavier. Ja, hy speel klavier. Sing ook en skryf self lirieke en musiek. Sy musieksmaak, sê hy, is so wyd soos die Heer se genade. Goeie Afrikaanse musiek (Karin Zoid), Alternatiewe Rock (Switch Foot), Gospel (Hillsong), Retief Burger, noem hy op.

Net so wyd lees hy ook. Goeie Afrikaanse boeke. Marietha van den Vyfer. Na ’n rukkie stipuleer hy: Sommige van haar boeke. Ander skrywers sluit in: Francine Rivers, Rob Bell, C.S. Lewis en John Piper. Dis ek, Anna, (Elbie Lötter) is ’n boek wat ’n diep indruk op hom gelaat het.

Hy fliek nie baie nie, maar flieks wat vir hom uitstaan, is Lord of the Rings en The Chronicles of Narnia.

Anru het bruin hare wat hy kort gesny hou en bruin oë wat maklik lag. Hy gesels ook maklik, het ’n openheid omtrent hom wat mense na hom aantrek. Hy’s atleties gebou (1,85m lank en weeg 72kg). Sport? Hy’s ’n WP-ondersteuner (waaraan ons iets sal moet doen), neem graag aan wedlope deel en geniet enige sport waar ’n bal betrokke is.

Gebore en getoë in Nelspruit, bly die mooiste deel van ons land vir hom die Laeveld, verseker hy my. Die bos trek hom, hy sonder homself dikwels daar af.

En sy liefdeslewe? Jammer, gemeente dogters, Anru hét ’n meisie.

Oor sy passie vir die bediening sê hy die volgende: “Die koninkryk van God wat konkreet in die alledaagse sigbaar word, maak my baie opgewonde. Die blote feit dat ons ’n klein deeltjie van God se hart alreeds kan ervaar, fassineer my. Ek het ’n hart vir jong mense, en dit maak my opgewonde om te sien hoe die Here jongmense kragtig gebruik om ’n impak in die wêreld te hê. Om saam met mense ’n pad te stap is my passie, en ek geniet dit om na mense se stories te luister. Ek glo dat die Here in die besonder Hom ontferm oor dié wat swaarkry en die mense wat randfigure in die samelewing is. Daarom klop my hart ook sterk vir sosiale geregtigheid.”

Toe ek moet groet kyk ek vlugtig weer na die aanhalings bo sy lessenaar:

  • God is most glorified in you when you are most satisfied in Him; in the midst of loss, not prosperity – John Piper.
  • Gee alles en raak buite beheer! Dis ’n opdrag …
  • It has always been the responsibility of the Church to broaden horizons and challenge the status quo – Martin Luther King Jr.

Vir my was die kuier heeltemal te kort. En weet ek: Vandag het ek ’n jongman ontmoet, wat my ryker van hom af laat weggaan het as wat ek met die komslag was.

(Geskryf deur Manie Groenewald)